EHS se o/17A-Fast 5 netbalspan

Op Donderdag, 5 September, het Hoërskool Ermelo se o/15A-, o/15B- en o/17A-Fast 5 netbalspanne deelgeneem aan Gert Sibande se Fast 5 netbaltoernooi.

Die Erries het die dag oorheers en al drie spanne het in die Semi-finaal gespeel.

Die o/15A’s eindig eerste in Gert Sibande. EHS speel gelykop teen Hoërskool Piet Retief, EHS wen Hoërskool Standerton 12-4, EHS wen Hoërskool Volksrust 13-3, EHS verloor teen Hoërskool Secunda 10-5, EHS wen Hoërskool Hoogenhout in die semi-finaal 14-4 en kom weer te staan teen Secunda in die finaal waar die Erries wen met 11 doele teenoor nege.

Die Erries se o/15B-span eindig vierde in Gert Sibande. EHS wen Hoërskool Standerton 4-2, maar verloor ongelukkig teen Hoërskool Piet Retief 5-7 en teen Hoërskool Hoogenhout 7-9. Dié span speel in die semi-finaal as gevolg van hulle doelgemiddeld, maar verloor ongelukkig naelskraap teen Secunda A.

Die o/15-spanne van EHS bestaan grootliks uit o/14-spelers wat vir die o/15-liga ingeskryf is. Die Erries is daarom besonder trots op die prestasies wat hierdie jong spanne behaal het.

Die o/17A-span van EHS speel gelykop teen Hoërskool Piet Retief met agt doele elk, EHS wen Hoëskool Volksrust met 15-3, EHS wen Hoërskool Secunda met 9-3 en EHS wen Ligbron in die semi-finaal met 10-7. Die Erries val tydens die finaal vas teen Secunda en verloor onelukkig met 7-10. Hierdie uitslae verseker aan die o/17A-span ‘n tweede plek in Gert Sibande.

Die o/15A- en o/17A-spanne kwalifiseer om aan die Mpumalanga-kampioenskap deel te neem. Dit vind plaas op Donderdag 12 September te Hoër Tegniese skool Middelburg.

Baie geluk aan al die dogters en sterkte vir die spanne wat aan die volgende rondte gaan deelneem. EHS is besonder trots op elkeen!