Op Saterdag, 11 Mei, pak Hoërskool Ermelo en Hoërskool Secunda mekaar op die rugby- en hokievelde. Die Erries speel uitstekende sport en wys Errie-guts soos net die Erries kan.

Die hokkiedogters kwyt hul uitstekend van hul taak.

Die o/14A-span het ‘n spanningsvolle wedstryd gehad en eindig gelykop met een doel elk, met Nathalie Nel wat EHS se doel geslaan het.

Die o/15A-span oorheers die wedstyd en wen gemaklik met sewe doele teenoor een. Hierdie dogters het pragtige hokkie gespeel en Anzel Vosloo slaan vier doele vir haar span met Kayla van der Meyden wat twee doele aanteken en Carla Ferreira wat een doel slaan.

Die o/16A-span het ook ‘n harde wedstyd gehad en speel gelykop met 0 elk.

Die tweedespan het op hul beurt weer die ander span gewys waar Dawid die wortels begrawe het en dié span stap van die veld af met ‘n besondere telling van 12 – 0. Yané Broekman teken vyf doele vir haar span aan met Jani Hattingh wat vier doele slaan en Sunelle de Bruyn, Gerzanda Fourie en Elizia van Heerden wat elk een doel aanteken.

EHS se rugbyseuns het met gemengde welslae van die veld af gestap. Die o/14A-span verloor 62-0.

Die o/15A-span wen 15-6. Ignus en Marko Ferreira druk elk een drie en Wian Swart verdoel een drie en skop ook een strafskop oor. Die o16A-span verloor ongelukkig met 17-34. Phumlani Mkhwanazi druk twee drieë en Lunga Cindi druk een drie. Corné Janse van Rensburg verdoel een drie.

Die tweedespan van Hoërskool Ermelo wen met 17-10. Pedri Lourens, Gawie Diedericks en Luyanda Mabuza druk elk een drie en Zuzu Mabuza skop een doelskop oor.

Die Hoërskool Ermelo Isuzu eerste rugbyspan verloor in ‘n baie taai stryd met ‘n naelskraap telling van 24-28. Heubie van der Walt en Walter Visser druk elk ‘n drie en laasgenoemde verdoel een drie en skop vier strafskoppe oor.

Baie geluk aan elke span wat as oorwinnaars van die veld af gestap het en dankie aan elke Errie wat sy en haar beste gegee het.

EHS is trots op elkeen.

Foto bo: Baruch Büchling links en Walter Visser regs met die bal